Toelatingsbeleid

Laerskool Birchleigh is ‘n openbare skool wat volgens erkende riglyne bedryf word. Geen leerder sal toelating tot Laerskool Birchleigh geweier word op grond van ras, kleur of geloof nie.

1. TOELATING

Toelating van alle leerders is onderworpe daaraan dat die ouer/voog en leerder hulself onderwerp aan alle bepalings van die Grondwet van Laerskool Birchleigh soos goedgekeur deur die Gautengse Departement van Onderwys. By die inskrywing van nuwe leerders moet leerders se identiteitsdokument en vorige vorderingsverslag getoon word.

2. OUDERDOM

*Die toelatingsouderdom van ‘n leerder in Graad 1 behoort nie ouer as 7 (sewe) jaar te wees nie.

*Graad 2-7 word 1 jaar progressief vir elke graad toegevoeg met die inagneming dat die normale vorderingstempo gehandhaaf word.

Gevalle wat afwyk van die vereistes gestel in 2(1) sal individueel, ooreenkomstig meriete, deur die Gautengse Departement van Onderwys oorweeg word.

3. TAALVAARDIGHEID

Laerskool Birchleigh is ‘n Afrikaans-medium skool. Afrikaans sal die onderwysmedium (eerste taal) van die skool wees. Engels sal die tweede taal van die skool wees. Alle leerarea’s sal dus in Afrikaans onderrig word behalwe die tweede taal.

4. AANVAARDING VAN ETOS EN DISSIPLINE VAN LAERSKOOL BIRCHLEIGH

4.1. Indien/wanneer ‘n leerder tot Laerskool Birchleigh toegelaat word, onderneem die ouer(s) en leerder om toe te sien dat die etos (gees en karakter) en dissipline van die skool ondersteun en gehandhaaf sal word.

4.2. Aanvaarbare immuniseringskaarte van alle leerders moet op aanvraag getoon word.

4.3. Die Beheerliggaam hou die reg voor om verdere mediese vereistes te stel in enige geval waar dit na die oordeel van die Beheerliggaam wenslik blyk te wees.

4.4. Wangedrag: "n Leerder wat ’n rekord het van wangedrag wat die normale gang van skoolaktiwiteite kan ontwrig, sal nie toegelaat word nie.

5. CHRISTELIKE ONDERWYS

Laerskool Birchleigh is ‘n Christelike instelling. Die Woord van die Here is die basis van ons onderrig.

6. SKOOLBYWONING

Getroue skoolbesoek is uiters belangrik. So word pligsbesef by ons leerders gekweek. Indien ‘n leerder afwesig was moet ‘n skriftelike verskoning by die voogonderwyser ingehandig word. Reël asseblief tandarts, dokter- en spesialis-afsprake vir na skoolure. Indien dit dringend van aard is moet u skriftelik toe-stemming vra by die Hoof. Lig ons asseblief in as u kind ernstig siek of in die hospitaal is. Ons kan dan besoek aflê en ook voorbidding doen.

7. SKOOLREËLS

Alle leerders sal die skoolreëls eerbiedig en gehoorsaam. Die reëls is min, maar word effektief toegepas.

8. SKOOLGELDE

Betaling van skoolgelde is verpligtend. Indien ‘n ouer(s) nie kan betaal nie, moet hulle die skoolhoof nader en skriftelik ‘n reëling tref soos deur wetgewing bepaal.

9. SKOOLDRAG

Laerskool Birchleigh het sy eie geregistreerde skooldrag vir seuns en dogters. Alle leerders wat die skool bywoon, trek die skooldrag aan soos voorgeskryf.

10. SKOOL- EN BUITEMUURSE AKTIWITEITE

Ingeskrewe leerders aan Laerskool Birchleigh sal te alle tye beskikbaar wees vir deelname aan skool-aktiwiteite gedurende skoolure of andersins soos verlang. Hierdie aktiwiteite sluit akademiese, -kulturele, -en sportaktiwiteite in. Die lojaliteit vir en ondersteuning aan die skool kry in hierdie verband voorkeur bo ander aktiwiteite, liggame en klubs.

11. BEHEERLIGGAAM

Hulle is u verteenwoordiger by ons skool, sal skoolgelde bestuur en beheer en die belange van ons leerders dien na die beste van hulle vermoë.

Die Beheerliggaam verkry die reg om enige aansoek op sy eie meriete te hanteer en sodanige leerder toe te laat volgens die regulasies van die Skolewet.

12. VERDERE VEREISTES

‘n Verdere vereiste vir toelating tot die Laerskool Birchleigh is dat die ouer(s) en leerder die volgende twee doelstellings van die Beheerliggaam sal respekteer:

* Alle skoolaktiwiteite sal streng buite die politieke arena funksioneer en geen aksies wat die goeie orde van die skool kan versteur sal toegelaat word nie.

* Die ouer(s) en leerder vrywaar die skool, sy werknemers, verteenwoordigers en amptenare teen enige aanspreeklikheid voortspruitend uit enige beserings of siekte van die leerder of enige ander skade hoegenaamd.

* Die personeel moet egter nie aan nalatigheid skuldig wees nie.

Kontak Besonderhede