Inleiding
'n Nuwe godsdiensbeleid vir Suid-Afrikaanse skole is in September 2003 goedgekeur en in 2011 hersien deur die Beheerliggaam. Volgens die godsdiensbeleid (punt 2, bladsy 3) het skole die reg om hulle eie godsdiensbeleid te ontwikkel aan die hand van die beginsels van die Algemene Beleid.
Uitgangspunt: Laerskool Birchleigh bedien 'n gemeenskap met 'n oorwegend Christelike geloofsbeskouing en skoei die skool se godsdiensbeleid op Christelike beginsels.
Laerskool Birchleigh:
- beskou die godsdienstige ontwikkeling en opvoeding van leerders as 'n baie belangrike faset van hulle algemene opvoeding en vorming;
- aanvaar dat dit in die eerste plek die taak van die ouers of voogde en die geloofsgemeenskap waarbinne leerders opgroei is om hulle te begelei in hulle geloofsgroei;
- erken die belangrikheid van die skool as deel van die leefwêreld van leerders waar hulle hulle geloof moet kan uitleef binne 'n klimaat waar daar respek daarvoor is en waar geloofsuitlewing toegelaat word;
- wil graag by ouers/voogde en die geloofsgemeenskappe wat in die skool verteenwoordig word aansluit deur binne die reëls van die skool, sonder om te diskrimineer, geleenthede op die skoolterrein te skep vir onderwysers en leerders om hulle geloof uit te leef en daarin te groei;
- kies om in al sy programme en aktiwiteite (binne en buite die formele kurrikulum) waardes aan leerders te leer en te modelleer wat in harmonie is met die geloofswaardes wat deur die geloofsgemeenskappe waaruit hulle kom as belangrik geag word;
- stel homself oop vir terugvoering van ouers/voogde en geloofsgemeenskappe en verklaar homself bereidwillig om na alle konstruktiewe wenke of kritiek in hierdie verband te luister, maar behou die reg voor om eie godsdiensbeleid te bepaal.
Keuse om te respekteer en om nie te diskrimineer nie
Laerskool Birchleigh:
- diskrimineer nie teen enige leerder of onderwyser op grond van sy of haar geloofsoortuiging nie;
- erken die reg van elke leerder en onderwyser om sy of haar eie geloofsoortuigings te hê;
- moedig respek onder leerders en personeel aan vir die verskeidenheid van godsdienste, geloofsoortuigings en aanbiddingstyle wat onder leerders en personeel voorkom;
- kan nie toelaat dat enige spesifieke geloofsgroep die skool as platform gebruik om daardie bepaalde geloof te bevorder binne situasies waar leerders en personeel nie die vrye keuse tot deelname het nie.
Aanmoediging van godsdiensaktiwiteite
Laerskool Birchleigh:
- moedig leerders en personeel aan om hulleself in godsdiensverenigings te organiseer en te registreer as buitemuurse aktiwiteite van die skool, sonder benadeling van ander se regte;
- mag bestaande fasiliteite van die skool tot die beskikking van die groepe stel;
- bepaal dat hierdie groepe tydens langpouses, voor skoolure, soggens, of ná skoolure in die middag bymekaar mag kom op 'n wyse wat ander groepe respekteer;
- mag die fasiliteite van die skool tot die beskikking stel van enige geloofsgroep wat daarom aansoek doen, onderworpe aan die normale reëls wat geld vir die verhuring van skooleiendom aan buitegroepe.
Godsdiensbeoefening: saalbyeenkomste
Aangesien die oorgrote meerderheid van die leerders in Laerskool Birchleigh tans aan die Christelike geloof behoort, word die saalbyeenkoms só ingerig dat die godsdiensdeel van die byeenkoms 'n Christelike byeenkoms is.
Daar word voorsiening daarvoor gemaak dat alle leerders en personeel wat hulle nie met die Christelike geloof kan vereenselwig nie, 'n versoek mag rig dat hulle van hierdie deel van die saalbyeenkoms verskoon mag word. Dit word aangemoedig dat geestelike leiers van die bepaalde geloofsgroepe na oorlegpleging met die skoolhoof 'n praktiese reëling tref om aan hierdie personeel en leerders in verskillende lokale die geleentheid te gee om hulle eie geloof te beoefen sonder om inbreek te maak op meerderheisdsaktiwiteite. Wanneer groepe bymekaarkom moet verskille van gelowe nie uitgelig word nie. Hierdie saak sal met groot sensitiwiteit hanteer word om te verseker dat geen leerder of onderwyser in die proses blootgestel word nie.
Kennis oor verskillende godsdienste
Laerskool Birchleigh wil graag op 'n opvoedkundig verantwoordbare wyse leerders blootstel aan kennis oor die oorsprong, aard, belangrike geskrifte, plekke en persone, asook die bydraes van verskillende godsdienste tot die geskiedenis van die mensdom.
Dit word deur die loop van die aanbieding van leermateriaal in die kurrikulum (veral in Lewensoriëntering) gedoen en sal deurlopend op só 'n manier gedoen word dat leerders se eie godsdiensoortuiging versterk en gerespekteer word terwyl hulle kennis neem van dit wat anders is as hulle eie.





