Elke leerder het die reg om ongestoord onderrig te ontvang en in ‘n geordende omgewing skool te gaan. Diegene wat andere hierdie reg ontsê, moet begeleidend tot verantwoordelikheid gedwing word.
Geduld, liefde en begrip is waardevolle gereedskap wat in die begeleidingsproses gebruik moet word.
In die opvoedingsdriehoek is noue skakeling tussen ouers en onderwysers van die grootste belang. As leerders dissiplinêre probleme gee, moet ouers daarvan kennis dra.
Omdat die ouerhuis as primêre opvoedingsinstansie beskou word, word daar van die ouers verwag om ook ten opsigte van dissipline die skool se hand te sterk.
‘n Leerder met dissiplinêre probleme het gewoonlik ‘n geskiedenis wat tot hierdie probleme lei. Hierdie geskiedenis moet nagevors word en in gedagte gehou word wanneer oortredings voorkom.
Wanneer ‘n dissiplinestelsel geskep word, is ‘n strafmeganisme deel daarvan. Die strafmeganisme moet opvoedkundig verantwoordbaar wees. Daar moet gewaak word daarteen dat ‘n leerder se menswaardigheid of selfbeeld daardeur afgebreek word.
Die onderwyser het die plig om leerders te dissiplineer en die ideaal is om begeleidende dissipline in selfdissipline te omskep.
WETSVEREISTES VAN DIE BELEID: WET: Die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet no. 84 van 1996). IMPLEMENTERING VAN DIE BELEID:
ELKE OUER VAN LAERSKOOL BIRCHLEIGH VERBIND HULLE TOT:
Die opvoeding van leerders tot verantwoordelike en selfstandige besluitnemers.
Die kweek van 'n pligsbesef by leerders.
Die handhawing van dissipline by leerders.
Die hantering van die opvoeders en bestuur met die nodige respek.
Die aanvaarding van die skoolreëls en -beleide en die bevordering daarvan by die leerders.
Die respek vir die skoolomgewing en die skoolfasiliteite.
Die erkenning van die multikulturaliteit en andersheid van mede-ouers en dat hulle so sal optree dat hulle nie die menswaardigheid van ander ouers sal aantas nie.
Die respek vir nie-onderwyspersoneel en besoekers. Die bydraes tot die gladde verloop van die skoolorganisasie deur administratiewe personeel en terreinwerkers word hoog aangeslaan, daarom sal
ouers ook hierdie personeel met agting hanteer.
REGTE VAN OUERS:
Om op die beheerliggaam te dien indien demokraties verkies.
Om te verwag dat die standaard van onderwys korrek en in lyn is met die beginsels soos vervat in die skolewet.
Gereeld op hoogte gehou te word ten opsigte van die vordering van sy/haar kind by die skool aktiwiteite of selfs gedragsafwykende gedrag indien dit openbaar word.
Enige probleem met of die onderwyser of die skoolhoof te bespreek, maar op so 'n manier dat die integriteit van geen persoon afgekraak word nie/sy regte nie aangetas word nie.
Deel te neem in die besluitnemingprosesse en funksies soos van tyd tot tyd deur die skool verlang.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN OUERS
Om aan hulle kinders 'n veilige en geborge opvoeding te gee waarmee die kind se volle potensiaal ontwikkel kan word.
Om toe te sien dat hulle kind/ers elke dag skool bywoon en indien hulle afwesig is, dit onder die aandag van skool te bring. Indien 'n kind vroeg die skool moet verlaat self die nodige reëlings tref en
die kind persoonlik by die kantoor kom afhaal.
Om toe te sien dat gereelde akademiese rapporte van die vordering van die leerder ontvang word en dit ook met die onderwyser en kind te bespreek.
Om toe te sien dat die kind gesond en skoon is en dat hy/sy geïmmuniseer is soos vereis deur die Gesondheidsdepartment.
Om toe te sien dat die kind/ers die nodige toerusting het om hulle klaswerk en tuiswerk te doen.
Om onder die aandag van die skool te bring, enige verandering in die kind se omstandighede.
Om die skool te voorsien met die nodige telefoonnommers, adresse en geboortesertifikate.
Om gereeld die kinders se skoolgeld te betaal of reëlings met die Finansiële komitee te tref.
Om 'n positiewe verhouding te kweek tussen die leerder, die onderwyser en die skool deur aktief betrokke te raak by die aktiwiteite van die skool.
Enige skade aan die gebou en ander toerusting deur leerders sal deur die ouers vervang of herstel word.
In enige wederregtelike optrede sal die bestaande landswet geld.
BETROKKENHEID BY BUITEMUURSE AKTIWITEITE EN SPORTBYEENKOMSTE
Die deelname van leerders aan enige buitemuurse aktiwiteit is 'n voortsetting van die opvoedingsproses daarom is die optrede van ouers langs die veld/baan van uiterse belang om nie aanstoot te gee nie.
Ouers onderneem dus om hulself te weerhou van opmerkings teenoor die skeidsregters en ander toeskouers tydens sportbyeenkomste. Hulle ook te weerhou van geweldadige, onwelvoeglike en lasterlike taal en gedrag.
Sien volledige sportbeleid.
BESOEKE AAN DIE SKOOL OM OPVOEDERS TE SPREEK:
Skakel vooraf om 'n afspraak te reël. Meld te alle tye by die kantoor aan. Geen ouer mag direk na 'n onderwyser se klas gaan nie. Indien die skoolhoof teenwoordig moet wees maak asseblief 'n afspraak by die
sekretaresse.
2. KLEREDRAG EN PERSOONLIKE ARTIKELS
2.1 Dit word van leerlinge verwag om die voorgeskrewe kleredrag, soos elders in die ouergids asook webwerf uiteengesit, te dra.
2.2 Seuns se hare mag nie in hulle oë, oor hule kraag of ore hang nie.
2.3 Hare mag nie gekleur of gebleik word nie.
2.4 Geen buitensporige of kunsmatige haarstyle word toegelaat nie.
2.5 Dogters mag een stel goue of silwer oorringetjies of knopies, op die normale plek, in die ore, dra. Geen ander juweliersware om die nek, vingers of polse word toegelaat nie.
2.6 Grimering word nie toegelaat nie.
2.7 Dit is van die grootste belang dat klere, boeke en sporttoerusting met die leerlinge se naam en van gemerk sal wees. Dit is die enigste wyse waarop verlore artikels geïdentifiseer kan word.
2.8 Laat liefs waardevolle artikels tuis.
2.9 Leerlinge wat met fietse skool toe ry, moet dit met ‘n fietsketting aan die fietsrakke vasketting. Die gebruik van valhelms word aangemoedig.
3 AFWESIGHEID
3.1 Gereëlde skoolbywoning is van groot belang.
3.2 Ouer laat weet die skool of per telefoon of per brief (voor 09:00) van die afwesigheid van leerling.
3.3 Sekretaresse skakel daarna die leerders se ouers waarvan nie kennis geneem is nie.
4 SKOOLVERLATING
4.1 Leerlinge mag onder geen omstandighede op eie houtjie tydens skoolure die skoolterrein verlaat nie.
4.2 Wanneer ‘n leerling siek is, sal hy/sy nie sonder die medewete van ouers huis toe gestuur word nie. Die telefoonoproep waarmee die ouers van die siekte in kennis gestel word, moet vanaf die sekretaresses gemaak word, sodat hulle daarvan bewus kan wees. Dit is verkieslik dat ouers persoonlik siek kinders by die skool kom haal.
4.3 Aangesien leerlinge skoolpligtig is, mag die skoolhoof nie toestemming verleen aan ouers dat leerlinge tydens die amptelike skooljaar uit die skool mag bly, vir ander redes as siekte nie. Ouers moet self oordeel of versoeke om leerlinge uit die skool te hou, geregverdig is. In so ‘n geval, moet die skoolhoof kennis dra van so ‘n verwikkeling.
4.4 In noodgevalle sal leerlinge toegelaat word om doktersafsprake, in skooltyd, na te kom.
5 VERKEERSVEILIGHEID
5.1 Verkeersdrukte rondom ons skool maak die nakoming van verkeersreëls deur die leerlinge gebiedend noodsaaklik.
5.2 Leerlinge moet asseblief die voetoorgang gebruik en die skolierpatrollie gehoorsaam.
5.3 Ouers mag nie op die skoolterrein parkeer of leerlinge daar oplaai of aflaai nie.
5.4 Ouers se samewerking ten opsigte van die nakoming van verkeersreëls rondom die skool is tot almal se voordeel.
5.5 Respekteer die stilhou-verbode areas.
6 OUERBESOEKE TYDENS SKOOLURE
6.1 Wanneer ouers ‘n klas wil besoek, moet dit met die medewete van die kantoor en die skoolhoof geskied.
6.2 Vergete leerlingartikels wat na die skool gebring word , moet by die sekretaresse afgelewer word. Die leerling se naam en klas moet op die pakkie of artikel geskryf wees. Dit sal gedurende pouse aan die leerlinge gegee word.
6.3 As gevolg van die administratiewe las wat dit meebring, moet dit tot die minimum beperk word.
7 ALGEMENE SKOOLREëLS
- Tree met respek op teenoor volwassenes, ander leerlinge en skooleiendom.
- Klaswisseling moet ordelik geskied.
- Stap links in die gange.
- Daar mag nie in die gange gesels word nie.
- Met die aanvang van die skooldag en na pouses word daar ordelik en in rye op die voorgeskrewe plekke aangetree.
- Alle periodes op die rooster moet bygewoon word.
- Staan op wanneer ‘n volwassene ‘n klaskamer binnekom.
- Groet altyd die personeel en volwassenes vriendelik.
- Respekteer die eiendom van ander deur dit nie te neem of te beskadig nie.
- Help om die skoolgebou en terrein netjies te hou en nie rommel te strooi nie.
- Gebruik die badkamers op ‘n sindelike manier, sodat dit skoon en netjies bly.
- Respekteer die skooldrag, skooldragreëls en persoonlike netheidsreëls.
- Die klaskamers, die saal en gange is voor skool en tydens pouses verbode terrein. Leerlinge mag tydens pouses net in die gange beweeg indien hulle na die kleedkamers op pad is.
- Slegs die kleedkamers op die grondvlak mag tydens pouses gebruik word.
- Op reëndae mag leerlinge onder toesig rustig in die saal sit.
- Elke graad se leerlinge speel voor skool en tydens pouses net in die areas wat aan hulle toegeken is.
- Die tennisbane is net vir tennis en netbal.
- Die skoolgrond mag nie sonder toestemming verlaat word nie.
- Leerlinge mag nie in die skoolgebou eet of drink nie.
- Die beskadiging van skooleiendom is ontoelaatbaar.
- Bakleiery en gevaarlike speletjies is ontoelaatbaar.
- Leerlinge moet hulle fietse en skopfietse stoot op die skoolterrein.
- Geen skaatsplanke word op die skoolterrein toegelaat nie.
- Ons daag altyd betyds op vir skool en ander geleenthede.
- Telefoonoproepe word vanaf die kaarttelefoon gemaak, en nie in klastyd nie.
- Handhaaf altyd goeie sportmangees.
- Praat in die klas wanneer dit van jou verwag word.
- Steek jou hand op wanneer jy iets wil sê.
- Bly dadelik stil wanneer die onderwyser praat.
- Tree teenoor ander op soos wat jy wil hê ander moet teenoor jou optree.
- Tree so op dat jy die goeie naam van die skool uitdra.
8 DISSIPLINESTELSEL (WAG VIR GOEDKEURING VANAF KOMITEE)
8.1 ALGEMEEN
Die dissiplinestelsel is in plek om gedragsprobleme , dissipline met betrekking tot pligsversuim en ander oortredings aan te spreek. Dit is altyd daarop gemik om verkeerde gedrag reg te stel.
8.2 DETENSIESTELSEL
Die detensiestelsel geld vir die gr 4- tot 7-leerders.
Oortredings word op ‘n detensiestrokie aangeteken. Wanneer so ‘n strokie voltooi word, moet die leerling daarvan kennis neem en dit met ‘n handtekening bevestig. ‘n Waarskuwing word tot die leerder gerig.
Nadat ‘n derde strokie voltooi is, word ‘n brief aan die ouers gestuur , waarin die oortredings vermeld word. Hierdie brief dien ook as kennisgewing dat die leerder strafklasse moet bywoon. Hierdie kennisgewing sal die week voor die strafklasse aan die ouers gestuur word.
Geen keuse word aan leerders gegee ten opsigte van die datums waarop hulle die klasse sal bywoon nie. Dit sal Vrydae na skool plaasvind.
Hierdie klas se bywoning is verpligtend en die versuim om aan te meld, sal in ‘n ernstige lig beskou word. Die beginsel van samewerking tussen die ouers en onderwyser in belang van die kind, is hier van kardinale belang.
Gedurende hierdie periode sal die leerders hulleself met skriftelike strafwerk besig hou. Dit is nie ‘n akademiese periode nie.
8.3 GEDRAGSKAARTE
Weekliks word die gedrag van senior primêre leerders deur al die betrokke personeel tydens ‘n personeelvergadering bespreek.
Indien ‘n leerder deur drie of meer personeellede as ‘n herhaalde oortreder geïdentifiseer word, sal as volg opgetree word:
‘n Leerder sal vir ‘n volle week ‘n geel gedragskaart ontvang. Na elke periode word die kaart deur die verantwoordelike personeellid geparafeer, indien die gedrag na wense was. Indien nie, sal die nodige opmerkings aangeteken word.
Die kaart word daagliks deur die skoolhoof gekontroleer.
Na verloop van een week sal die gedrag van ‘n leerder deur die personeel herevalueer word.
Indien die leerder se gedrag nie verbeter word nie, word die proses herhaal.
Indien die gedrag na ‘n tweede geel kaart nie verbetering toon nie, sal ‘n rooi kaart aan hom/haar oorhandig word. Dieselfde prosedure soos hierbo beskryf, sal met dié kaart gevolg word.
Indien hierdie gedragskaart nie enige verbetering van die leerder se gedrag teweeg bring nie, sal sy/haar langdurige hardnekkige optrede as ‘n "ernstige oortreding” hanteer word.
Ouers sal skriftelik in kennis gestel word indien ‘n kaart aan ‘n leerder oorhandig word.
9. MEER ERNSTIGE OORTREDINGS EN DIE HANTERING DAARVAN
9.1 ERNSTIGE OORTREDINGS
Gedrag wat die veiligheid van andere in gevaar stel;
Die besit of gebruik van dwelmmiddels, alkohol of sigarette;
Immorele gedrag;
Skadelike grafitti, brandstigting, haattaal, seksisme, en rassisme;
Diefstal;
Vandalisme;
Oneerbiedigheid, afkeurenswaardige gedrag en beledigende taal wat teenoor opvoeders of ander werknemers van die skool of teen leerders gerig is;
Oortreding van eksamenreëls;
Verontregting, afknouery en intimidering van ander leerders;
Herhaalde skending van die skoolreëls of die gedragskode.
9.2 PROSEDURE BY DIE HANTERING VAN MEER ERNSTIGE OORTREDINGS
♦ Die skoolhoof sal na die oortreding, die graad daarvan bepaal. Indien dit as "ernstig” geklassifiseer word, sal die volgende prosedure gevolg word.
♦ Die ouers sal geskakel en ingelig word.
♦ Indien die skoolhoof dit nodig ag, kan ‘n afspraak met die ouers gemaak word om die oortreding te bespreek om gepaste regstellende aksie te beplan.
♦ Indien dit na die diskresie van die skoolhoof nodig geag word, sal die Beheerliggaam van die oortreding in kennis gestel word.
♦ ‘n Beheerliggaamvergadering sal belê word.
♦ Ouers sal die reg hê, met ondersteuning van ‘n regsverteenwoordiger indien so verkies, om hul kind se saak te stel.
♦ Daar sal na so ‘n vergadering deur die Beheerliggaam op skorsing of uitsetting besluit kan word.
10 KINDERSIEKTES
Hier volg riglyne ten opsigte van die tydperk wat moet verstryk alvorens leerlinge wat kindersiektes het, na die skool mag terugkeer:
1. Skarlakenkoors: Mag 14 dae na die begin van behandeling terugkeer skool toe.
2. Masels: Mag 7 dae na die eerste verskyning van die uitslag terugkeer skool toe.
3. Duitse Masels: Mag na die verdwyning van die uitslag terugkeer skool toe.
4. Waterpokkies: Mag terugkeer skool toe wanneer alle rofies af is.
5. Pampoentjies: Mag 7 dae nadat die swelling verdwyn het, terugkeer skool toe.
6. Impetigo (infeksie van vel, veral rondom die mond): Mag nadat letsels genees het, terugkeer skool toe





